Om die Riebeek-berge te versit
This article was written by Leo Cordom and was originally published on MatieMedia.
In April vanjaar het die 24-jarige Lunga Swelindawo sy meestersgraad in Ekonomie ontvang. Dié Swartlander het van kindsbeen af geweet dat hy anders is: Hy wil brûe bou, ander mense ophef en mense se lewens verander. Leo Cordom het met Lunga Swelindawo gesels oor groot drome, om soos ’n token black te voel en sy volgende groot hekkie.
*Lunga Swelindawo het grootgeword aan die voet van die Riebeek-berge in Riebeek-Wes. Hiér was hy beperk tot die gevangenisterrein waar sy pa gewerk het. Dit was in hierdie omgewing waar hy sy avontuurlustigheid ontwikkel het.
“As ’n jong seun hol jou verbeelding weg. Daar is net soveel wat jy kan doen met berge en wingerde [rondom jou], daarom was alles ’n avontuur. As jy besig is om die wêreld te verken, is dit asof ’n gedeelte van jou stop om in daardie oomblik te ontsnap,” vertel Lunga.
Volgens Lunga was hy as kind ’n regte nuuskierige agie. “My ouers beskryf my altyd as ’n pyn,” sê Lunga spottend. Hy vertel altyd vir mense dat daar ’n punt in sy lewe was waar hy reguit op pad was na wangedrag.
“Ek het hierdie nuuskierige manier van dink gehad. Ek wou nie in die huis ingeperk wees nie. Ek wou reëls oortree. Maar aan die ander kant, dink ek, was hulle baie bly om my te hê, want op skool het ek altyd my beste gelewer.”
Lunga weet al vanaf sy kinderjare dat hy ’n liefde vir ekonomie het en volgens hom, het dit alles begin op die TV-skerm.
“Trevor Manuel, wat destyds die minister van finansies was, het die begrotingsrede gelewer,” vertel hy. In plaas daarvan dat die uitsaaier egter na Manuel verwys het as die minister van finansies, het hulle na hom verwys ’n ‘ekonoom’. Van daardie oomblik af het Lunga geweet dat sy passie in belasting, behuising en sosio-ekonomiese probleme lê.
Lunga het sy skoolloopbaan begin by die destydse Laerskool Smuts-Malan in Riebeek-Wes. Volgens Lunga was ’n Graad 5-loopbaandag by dié skool, nóg ’n oomblik waar sy passie vir ekonomie duidelik geword het. “Ek het ’n pak aangehad, ’n aktetas byderhand gehad en vir daai dag was ek ’n ekonoom.”
In daardie stadium het Lunga nie regtig wat ekonome doen nie, maar hy’t altyd teruggedink aan Trevor Manuel se begrotingsrede.
Nie bang om groot te droom
In Graad 9 het Lunga sy skoolloopbaan voortgesit by Hoërskool Swartland in Malmesbury. “Ek onthou die eerste dag toe ek by die skool se hekke ingestap het. Ek het na die gebou gekyk en ek wou hoofseun word.”
Hy sal nooit die dag vergeet voordat hy uitgevind het dat hy die eerste swart hoofseun van Hoërskool Swartland gaan wees nie. ’n Paar weke voordat hulle die leerlingraad-benoemings (VRL) aangekondig het, het een van Lunga se vriende hom vertel van ’n beweerde sameswering.
“Hy was in Mnr. Marais [die skoolhoof] se kantoor en ’n ouer het aan hom gesê dat as hulle ’n swart hoofseun kies, die ouer hul kinders uit die skool sal haal,” vertel Lunga.
Hy het begin twyfel dat sy droom sal realiseer. Nie omdat hy in die skoolhoof getwyfel het nie, maar omdat hy geweet het watter invloed ouers op skole het.
“Ek moes soort van probeer om myself te troos met die moontlike teleurstelling. Maar wat snaaks was, was dat byna elke persoon gesê het dat hulle vir my gestem het. Mense met wie ek nooit gepraat het nie, het na my toe gekom en gesê: ‘Lunga, ons het vir jou gestem’.”
Toe die dag aangebreek het, het Lunga saam met my vriende – Onke en Aziz – na die prysuitdeling gestap. Op pad het hulle gesê: “Ons gaan gewoonlik nie na hierdie tipe geleenthede nie, maar vanaand gaan ons vir jou.” Lunga sê dat dit vir hom baie spesiaal was, omdat hy geweet het dat sy vriende altyd daar was vir hom.
Nadat Mnr. Marais die vorige VRL-groep op die verhoog geroep het om hulle te bedank, het die hoofseun en hoofmeisie op die verhoog gebly. “Hy’t begin om die name van die nuwe leerlingraad te lees. Nadat hy al die ander leiers aangekondig het, het hy na my gekyk en in my gedagtes het die sameswering van my vriend oor en oor gespeel,” sê Lunga.
“Hy’t my naam gesê en die gevoel was ongelooflik.”
Na die geskreeu en gejuig in die saal, het hulle die skoolvlag aan Lunga oorhandig. “Ek onthou nadat hulle die vlag oorhandig het, kon ek my vriende van die verhoog af sien. Hulle het hulle eie vlag vir my gemaak en ek dink dit was hulle manier om te erken hoe trots hulle op my was.”
Lunga en ander voormalige bruin en swart leiers se impak spreek vanself. Tans sit die skool met een van die mees diverse groep leiers sedert hulle bestaan. “Ek dink dit was meer ’n verskil in om oop te wees vir ’n ander soort leier. Dit het vir mense gewys dat hulle óók leiers kan wees. Ek dink dit was baie belangrik vir sommige mense se konsep van hulself en hul self-persepsie… dat wie ook al ’n leier wil wees, kán,” vertel Lunga.
Om soos ’n token black te voel
Na matriek, is Lunga na die Universiteit Stellenbosch om met sy tersiêre onderrig te begin. Hy was aanvanklik op ’n waglys vir koshuisplasing. “In daardie stadium, het ek nie geweet in watter koshuis ek wil wees nie,” vertel hy. Lunga het Jacques Welman, ’n vorige hoofseun aan Hoërskool Swartland, geraadpleeg vir advies, en uiteindelik ’n plasing in Huis Marais gekry.
Lunga meen dat die aanpassing en lewe op Stellenbosch vir hom relatief maklik was – dalk makliker as vir baie ander studente. Hy is egter nie die tipe persoon wat daarvan hou om ten koste van ander voorregte te geniet nie.
“As jy ’n swart man is en almal dink dat jy die token black guy is, dink hulle aan my,” sê hy. “Ek het ’n streep getrek.” Hy wou hê mense moes anders dink oor hom.
Lunga wou help om die denkwyse binne Huis Marais te verander. Op koshuis het hy vir drie jaar in leierskapposisies gedien, onder meer op die eerste- en tweedejaarskomitees. Daarna het hy vanaf 2015 tot 2016 gedien as ’n Huiskomitee-lid (HK).
Lunga se tyd as HK-lid was ’n monumentele oomblik in sy studentelewe. As die eerste swart HK-lid van Huis Marais, was Lunga se eerste prioriteit verandering. Hy wou Stellenbosch ’n gemeenskap maak waar ook diegene wat geïsoleerd en oorweldig voel, tuis kon wees.
“Dit is belangrik om jou gemeenskap binne hierdie groot gemeenskap te vind,” sê Lunga. “Dit is altyd goed as jy tussen mense kan wees wat die lewe beter maak.”
Lunga wou ook mense aanmoedig om hulle eie rigting te volg en hulself te wees, in plaas daarvan om ander na te boots.
“Vind jou eie nis, hou by dit en jy sal ’n goeie tyd hê op universiteit,” sê hy.
Die volgende groot hekkie
Lunga is tans besig met ’n navorsingsvoorlegging as deel van sy doktorsgraad in Ekonomie aan die US. “Ek wil vanuit ’n menswaardigheidsperspektief kyk na die belang van infrastruktuur by skole, en die fokus plaas op skole met swak infrastruktuur.”
Hy sê die onderwerp is belangrik, want as ons aan skole met swak infrastruktuur dink, dink ons aan die kinders wat daaronder ly. “As ons die fokuspunt verander en kyk na hoe dit die onderwysers beïnvloed, verander dit die hele debat,” sê Lunga. Hy sê deur te wys dat onderwysers se menswaardigheid gestroop word en dat hulle ook, soos die kinders, ly, kan dit die dringendheid vir verandering beklemtoon.
Lunga is steeds die avontuurlustige seun wat aan die hange van die Riebeek-berge grootgeword het. Dit het net ander vorme aangeneem. Deur sy avontuurlustigheid kon hy op skool help om leerders se perspektiewe op die lewe te verander en op universiteit kon hy ander help ophef en inspireer. En sy grootste avontuur? Die doktorsgraad in wording.
*Let wel: Hierdie onderhoud is gevoer voordat die nasionale inperkingsregulasies in werking gestel is.