‘Probleme kan nie verbloem word nie’ – DIE BURGER 19/08

‘Probleme kan nie verbloem word nie’

By Anika Marais

STELLENBOSCH – Sy is die eerste een wat sal erken daar is groot probleme in die onderwys.

“Ek het nie die vermoë om al die probleme in ons onderwysstelsel te verbloem nie,” het Angie Motshkga, minister van basiese onderwys, gister aan onderwyskenners erken.

Motshekga was een van die sprekers op `n konferensie oor die onderwys wat deur die Universiteit van Stellenbosch (US) se navorsingseenheid oor sosiaal-ekonomiese beleid (Resep) aangebied is.

“Baie van die navorsing oor die onderwys bewys oor en oor dieselfde ding. Ons weet daar is groot probleme en ons het dit al menigmale erken. Ek is vandag hier om te vra: Kom ons beweeg vorentoe en praat nou oor die oplossings.”

Die minister voel self die druk om drastiese veranderings in die onderwys te behaal.

“As die kenners van oorsee kom om internasionale toetse in ons skole te kom doen, slaap ek sleg. En as dit tyd is vir die resultate van die jaarlikse nasionale assessering (ANA), wéét ek my kop is op die blok,” het sy gesê.

“Ek weet daar is nog baie probleme met die ANA-toetse en ons moet dit verfyn sodat waardevolle afleidings uit die resultate gemaak kan word.

“Maar die toetse is op `n baie eenvoudige vlak vir sommige onderwysers ook net `n motivering. Dit is iets waarnatoe hulle in die jaar werk. Ons trek darem nou die onderwysers almal in dieselfde rigting,” het sy bygevoeg.

Voortgesette navorsing van onderwyskenners en onderwysekonome is egter steeds bitter nodig.

“Ons as departement het nie die kapasiteit om dit self te doen nie en dít is hoekom ek hier is. Daar is baie data, maar julle moet ons help om dit op die regte manier te interpreteer en te verstaan,” het sy aan die gehoor van navorsers gesê.

“Die president wou eintlik hê ek moet in die parlement wees, maar ek het gevoel dit is belangriker om bande tussen navorsers en die departement te kom smee. Die president sal dei dag sonder my in die parlement oorleef,” het sy geskerts.

 

Die artikel het oorspronklik verskyn in Die Burger op Woensdag 19 Augustus 2015.

 

Vir al die aanbiedings wat tydens die Resep konferensie geskied het asook die volle skedule, druk hier.