ONDERWYSNAVORSING: Grondslag ‘bepaal prestasie’ – Gr. 4 deurslaggewend

ONDERWYSNAVORSING: Grondslag ‘bepaal prestasie’ – Gr. 4 deurslaggewend

Deur Anika Marais

STELLENBOSCH – As jou kind teen gr. 4 nie op peil kan lees, skryf en somme maak nie is die kans bitter skraal dat hy/sy universiteit gaan haal.

Volgens navorsing deur Prof. Servaas van der Berg, onderwysekonoom van die departement ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, word `n leerder se akademiese toekoms reeds baie vroeg in hul skoolloopbaan bepaal.

“As die leerder teen gr. 4 nie akademies op peil is nie, kan ek met 90% sekerheid sê die leerder sal nie aan die einde van matriek universiteitsvrystelling kry nie,” het hy gesê.

Van der Berg het dié navorsing verlede week aan onderwyskenners van dwarsoor die wêreld op `n konferensie oor die onderwys voorgelê.

Volgens uitslae van die jaarlikse nasionale assessering is daar byna geen verskil tussen die aantal leerders wat in gr. 4 akademies op peil prester en die aantal leerders wat aan die einde van matriek vrystelling kry om verder op universiteit te studeer nie.

Van der Berg het die leerders se akademiese peil volgens die Trends International Mathematics and Science Study (Timms) se laer maatstawwe gemeet.

“My bevinding bewys dat die fokus op die grondslagfase, of selfs opvoeding vóór skool, moet wees,” het hy verduidelik.

“Daar is nie tans genoegsame data oor die onderwys voor skool in Suid-Afrika nie, maar dit is selfs moontlik dat leerders in gr. 1 kom en reeds akademies `n hele paar jaar agter is. Deur die res van dié leerders se skoolloopbaan raak die gaping dan net te groot.”

Boonop stoot die departement van onderwys tans nie genoeg van sy hulpbronne in die grondslagfase in nie, meen Van der Berg.

“Heelwat fokus word nou op wiskunde in gr. 8 en gr. 9 geplaas. Ja, dit gaan `n klompie kinders help, maar vir die grootste gros van die kinders is dit teen daardie tyd nie veel hulp nie,” het hy gesê.

“Die departement se fokus moet na die grondslagfase skuif om werklike verandering in die onderwysstelsel te sien.”

 

Die artikel het oorspronklik verskyn in Die Burger op Dinsdag 25 Augustus 2015.

Vir al die aanbiedings wat tydens die Resep konferensie geskied het asook die volle skedule, druk hier. | For all the presentations from the Resep conference as well as the full schedule, please click here.