Heroorweeg vorderingsbeleid, sê Motshekga

Heroorweeg vorderingsbeleid, sê Motshekga

Deur Anika Marais

STELLENBOSCH – Die minister van basiese onderwys is nie verbaas oor die feit dat meer matrieks as verlede jaar vanjaar die eindeksamen gaan aflê nie.

“Ons besluit nog of al dié leerders die volle eindeksamen gaan skryf,” het Angie Motshekga gister op `n konferensie oor onderwys in Stellenbosch gesê.

“Ons het skole gevra om soveel as moontlik leerders na matriek deur te sit. Baie skole hou swak leerders in gr. 11 terug om hul resultate in matriek perfek te hou. Ons het vir hulle gesê: ‘Sit hulle deur, al het hulle nie gr. 11 geslaag nie. Gee die leerders wat herhaal ook `n kans’.

“Daar is nog die moontlikheid da tons sommige van hierdie leerders gaan deregistreer. As hulle baie swak in die Junie-eksamen gevaar het, sal ons hulle dalk as deeltydse leerders registreer,” het Motshekga gesê.

Gerekende onderwyskenners van reg oor die wêreld woon dié konferensie by. Dit word deur die Universiteit Stellenbosch (US) se navorsingseenheid oor sosiaal-ekonomiese beleid (Resep) aangebied.

Dit het Maandag tydens `n voorlegging van `n navorser van die departement van basiese onderwys, Ntsizwa Vilakazi, aan die lig gekom daar is `n drastiese toename in gr. 12-leerders wat vanjaar die eindeksamen gaan aflê.

Altesaam 687 230 leerders is voorlopig ingeskryf om die eksamen te skryf, teenoor die 571 819 leerders wat dit verlede jaar afgelê het.

Volgens Motshekga kon die departement van basiese onderwys se vorderingsbeleid hiertoe bydra. Die beleid skryf voor dat leerders net een keer per fase mag druip voordat hulle outomaties na die volgende grad deurgesit word. Leerders wat byvoorbeeld gr. 11 een keer druip, sal die volgende jaar regstreeks na matriek deurgesit word.

“Ek weet almal is kwaad vir my oor hierdie beleid. Skoolhoofde is kwaad vir my; onderwysers is kwaad vir my. Selfs die provinsiale ministers is vies vir my oor die beleid,” het Motshekga erken.

“Dis `n stelsel wat ons van 2013 af uittoets, maar binnekort weer gaan heroorweeg. Ons het dit aanvanklik ingestel omdat skole leerders vir jare in dieselfde graad gehou het tot hulle uiteindelik tou opgegooi het en skool verlaat het. Ons wou dié leerders ook `n kans gee om skool klaar te maak.”

 

Hoe lyk dit in die Wes-Kaap?

Voorlopige registrasies dui aan dat meer as 8500 meer leerders vanjaar in die Wes-Kaap die eindeksamen gaan aflê teenoor die 47 709 van verlede jaar.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, skryf dié toename toe aan die migrasie van leerders na die provinsie en die nasionale departement van basiese onderwys se vorderingsbeleid.

Altesaam 4813 leerders is aan die begin van die jaar na matriek bevorder sonder dat hulle gr. 11 geslaag het.

 

Die artikel het oorspronklik verskyn in Die Burger op Woensdag 19 Augustus 2015.

Vir al die aanbiedings wat tydens die Resep konferensie geskied het asook die volle skedule, druk hier. | For all the presentations from the Resep conference as well as the full schedule, please click here.