‘Gróót werk lê nog voor vir onderwys’ – DIE BURGER

‘Gróót werk lê nog voor vir onderwys’

Deur Anika Marais

Die onderwys in Suid-Afrika het die afgelope twee dekades as `n ver pad gekomo, maar die werk is nog geensins klaar nie.

Vyf gerekende Suid-Afrikaanse onderwyskenners het gister op `n konferensie by die Universiteit Stellenbosch (US) oor die stand van onderwys in die land besin en daarna uitgestippel wat in die volgende 20 jaar broodnodig is.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het ook die bespreking bygewoon en aantekeninge gemaak. Die boodskap was meerendeels eenparig: Die groot werk om Suid-Afrika se onderwysstelsel op te ruim lê nog voor.

 

Dr. Nick Taylor, onderwyskenner:

“Die grootste probleem is die swak bestuur van skole, waar unies eenvoudig die skool oorheers. Dit is waar van die onderwysvakbond Sadtu en baie skole in dei Oos-Kaap waar anargie heers. Optrede teen die unies word polities versigtig benader weens die regerende party se politieke alliansie met die vakbonde. As die bestuur in skole só regeer word, dan is alles verlore.”

 

 

 

Dr. Penny Vinjevold, hoof van die Wes-Kaapse onderwysdepartement:

“Ons glo in leierskap as die beste vorm van intervensie in skole. Daar is nie oplossings vir die onderwys wat nie met mense gepaardgaan nie. Daarom belê ons in skool- en departementshoofde van gehalte. Daar is egter nog baie stigmas oor geslag en ouderdom. Ons het wonderlike skoolhoofde van tussen 30 en 40 jaar, maar die aanname is steeds dat `n onderhoof wat 35 jaar in sy pos is die beste kandidaat vir `n hoof-pos is.”

 

 

Prof. Johan Muller, emeritus-professor aan die Universiteit van Kaapstad se skool vir opvoedkunde:

“Die meeste onderwyssers vandag het opleiding van drie jaar, maar dit beteken nie veel nie. Ons weet steeds nie of al hierdie onderwysers kennis suksesvol aan leerders kan oordra nie. Beleidmakers hou nie daarvan as ons op die kennis van onderwysers hamer nie, want dit is die moeilikste aspek van die onderwys om te hanteer.”

 

 

 

Dr. Thabo Mabogoane, onderwyskenner in die presidensie:

“Die onderwys se grootste probleem het eintlik niks met onderwys te doen nie. Ons kan doen net wat ons wil, maar as die sosiale probleme in die gemeenskap nie aandag kry nie, gaan dit al ons vordering eenvoudig omkeer.”

 

 

 

 

Prof. Servaas van der Berg, onderwysekonoom van die departement ekonomie aan die US:

“Ons moet in die toekoms kyk na die talent wat ons mors. Daar is byvoorbeeld 160 000 matrieks wat met onderskeiding slaag, maar net 100 000 van hulle gaan universiteit toe. Wat word van die res? Dit kan ook redelik eenvoudig wees om `n paar ekstra vrae oor `n gr. 12-leerder se huislike omstandighede in die matriek-eksamen in te werk. Dan sal ons kan aflei: Watter leerders bereik hierdie vlak, en hoekom?”

 

 

 

Die artikel het oorspronklik verskyn in Die Burger op Woensdag 19 Augustus 2015.

 

Vir al die aanbiedings wat tydens die Resep konferensie geskied het asook die volle skedule, druk hier. | For all the presentations from the Resep conference as well as the full schedule, please click here.